KLIPSRINGERJAG MET 'N HOUTBOOG

REAN STEENKAMP

Die klipspringer (Oreotragus oreotragus), een van Afrika se klein boksoorte, ook algemeen bekend as ’n mvundla (van die Xhosa umvundla, wat “konyn” beteken) is ’n pragtige dier wat behendig op rotsagtige heuwels beweeg. Die bokke se ovaalvormige hoewe is ontwerp om nie op die rotsagtige oppervlaktes te gly nie.

Toe ek stadig teen die bergskuinste af beweeg, merk ek ’n boomstomp wat baie aan ’n bok herinner. Ek stop in my spore. Is dit dalk ’n rooibok of ’n duiker? Voetjie vir voetjie beweeg ek nader en maak seker waar ek elke keer my voet plaas. Ek sorg deurentyd dat daar ’n ruie bos tussen my en die “boombok” bly. My stewels se sagte rubbersole maak geen geluid nie. Gelukkig het ek ’n selfgemaakte gilly-hemp aan, wat my help om soos ’n deel van die omgewing te lyk.

 

Ja, dit is ’n dier en nie ’n boomstomp nie! Ek kan net die oë, die swart neus, die donkerder kleur van die kliere onder die oë en die rooierige vel sien. Die boonste gedeelte van sy kop is verskuil agter blare sodat ek nie kan uitmaak of hy horings het nie. Die dier staan effens dwars weg van my af en kyk oor sy skouer in my rigting. Dit is ’n klipspringer, ’n versigtige klein bok wat verkies om in die heuwels en berge te bly. Die klipspringer weet van my, maar is waarskynlik nie seker wat ek is nie.

 

Ek moet stadig van agter die bos uit beweeg om ’n oop skoot op die bok te kry. Sal hy hardloop? wonder ek. Hy bly staan! Daar is reeds ’n pyl in die boog se snaar gehaak, maar ek moet my boog lig om dit te span. Ek fokus op ’n plek op die skouer van die bok, net ’n bietjie verder terug as wat ek normaalweg sou skiet, aangesien hy nie plankdwars staan nie, maar effens na voor gedraai. Dié klein Afrika-boksoort is supervinnig. Ek wonder of ek nie dalk my tyd mors nie. Die bokke hoor soms die pyl nader kom en beweeg dan blitssnel uit die pad uit. Dit het voorheen al ’n paar keer met my gebeur. Ek wag. Toe die bok sy blik van my af na die vallei verskuif, trek ek stadig die pyl met ’n Zwicky Delta-jagpunt vooraan tot volle lengte terwyl ek op die kol op die dier fokus. Toe ontspan my greep. 

 

Laat ek egter die storie van voor begin. Ek het die Maandag ’n oproep van my vriend Martin Jacobson ontvang. Hy moes die komende Vrydag ’n jagter van die VSA na ’n wildplaas vergesel en wou weet of ek by hulle wou aansluit. Ons sal rooibokke en vlakvarke jag en sal die Saterdagmiddag terugkeer. Die wildplaas het nie skuilings nie en ons sal te voet moet jag. Dit was goeie nuus vir my, aangesien ek besluit het dat ek daardie jagseisoen net te voet sou jag. Ek het Martin bedank vir die uitnodiging en met my 50-pond Skitiese kromboog, wat deur Lukas Novotny van Saluki Bows gemaak is, begin oefen.

 

Ek het al ’n hele paar diere met hierdie boog platgetrek, maar het vir ’n geruime tyd nie daarmee geskiet nie. My nuwe jagboog was ’n pragtige 55-pond kromboog wat deur Johan Smit gebou is. Ek het egter nie ’n boogkoker gehad wat op dié boog pas nie en besluit toe om eerder die Skitiese boog te gebruik. Daarvoor het ek ’n netjiese boogkoker gehad. ’n Boogkoker werk vir my die beste as ek ’n bok wil loop-en-bekruip.

 

Ons vertrek die Saterdagvroegoggend en stap na die heuwels op die wildplaas. Ongeveer 500 meter van die kamp af gaan ek links terwyl my vriend, die PH en die Amerikaanse jagter regs hou. Daar is twee heuwels op die wildplaas en die paaie wat ons geneem het, het elkeen na een van dié heuwels gelei.

 

Dit is ’n pragtige, helder oggend, maar dit lyk asof al die wild verdwyn het. Ek stap stadig teen die heuwel op totdat ek die plato bereik. Ek sou eers later uitvind dat die eienaar van die plaas net ’n  paar dae tevore wild op die plaas laat uitvang het. Om dié rede was daar baie minder wild, en dié wat oorgebly het, was verwilderd. Ek loop vir ’n rukkie baie stadig, soek met my verkyker vorentoe en gaan die windrigting gereeld na. Toe ek by ’n gebied kom waar die bome ’n groot skaduwee maak, stop ek om iets te eet en te drink: koffie, beskuit, biltong en ’n appel. 

 

Ek lê ’n  rukkie lank onder ’n bos. Ek is verstom oor die aantal voëls wat vinnig in die takke van die doringbome om my kom sit. Hulle is beslis nie van my teenwoordigheid bewus nie. Ek geniet dit om te kyk hoe hulle van tak tot tak spring en soms ’n groot geraas maak.

 

Die rustigheid oorval my en ek raak aan die slaap. Ongeveer ’n  halfuur later word ek wakker, staan op, vat my rugsak en boog en begin weer stadig deur die bos beweeg. Ek hou heeltyd my oog op die donsveertjie wat ek met vlos aan die bopunt van my boog vasgebind het. Met dié veertjie kan ek heeltyd sien in watter rigting die wind waai en sodoende seker maak ek loop teen die wind in.

 

Skielik hoor ek ’n blouwildebees snork en sien hoe die kudde wegdraf. Hulle hardloop omtrent dertig meter en gaan staan toe. Hulle het my gesien of geruik, maar is nie té ontsteld oor my teenwoordigheid nie. Toe ek nader aan die diere kom, merk ek dat daar twee ligbruin wildebeeste onder hulle is. Dit is nie gewone blouwildebeeste nie, maar goue wildebeeste. Ek beweeg weg so stil as wat ek kan, want ek wil hulle nie weer skrikmaak en sodoende my teenwoordigheid aan ander wild in die omgewing verklap nie.

 

Dit tref my weer hoe moeilik dit is om diere te voet te jag. ’n Mens moet baie versigtig wees en baie geluk hê om suksesvol te wees. Na ’n paar minute se stap begin ek weer afdraand loop, baie stadig en versigtig, want ek wil nie klippe raak skop of harde geluide maak nie. Volgens die GPS-lesing is ek redelik naby aan die kamp en het gevolglik al die tyd in die wêreld.

 

Dit was toe dat ek dit opmerk... die verdagte boomstam wat ’n klipspringer sou word. Die bokkie was omtrent 30 meter ver toe ek hom raaksien. Ek stop in my spore. Eers toe ek weet dit is ’n  klipspringer, begin ek my roete noukeurig beplan. Dit is te ver om ’n skoot met my tradisionele boog te waag. Ek sou die afstand met meer as die helfte moes verminder.

 

Die klipspringer is sowat 17 meter van my toe ek die skoot neem. Die pyl maak nie ’n  geluid toe dit die boog verlaat en ook nie terwyl dit op die niksvermoedende dier afpyl nie. Ek kan die dier sien skrik toe die pyl tref – en toe spring die klipspringer in volle vaart weg.

 

Ek voel effens lam in die knieë. Ek het pas ’n lewe geneem, en dit is nie iets wat ’n mens ooit ligtelik moet opneem nie. Uitasem en lam in die knieë gaan sit ek en wag sodat die dier in vrede kan doodgaan.

 

Daar is geen bloed op die plek waar die pyl die dier getref het nie en ek kan ook geen bloed in die nabye omgewing opspoor nie. Ek stap dus in die rigting waarin ek die duiker sien hardloop het. Ongeveer twintig meter verder sien ek die geel van my pyl se veer wat bo die rotse wys. Toe ek nader stap, tref ek die dooie dier aan met die pyl nog in sy lyf.

 

Dit is ’n  klipspringerram en ’n pragtige een daarby. My pyl het hoog op die skouer ingegaan, die longe binnegedring en die slagare bokant die hart afgesny en deurgesny tot voor in die bors.

 

Ek het God gedank vir hierdie dier wat Hy my toegelaat  het om dood te maak. Ek het gelukkig én hartseer gevoel. Ek sal nooit weer ’n klipspringer jag nie, behalwe as my oorlewing daarvan sou afhang. Een is genoeg. Eers later het my vriend en medejagter, dr. Adrian de Villiers, gesê dat ek waarskynlik die eerste, en tot nou toe, die enigste jagter is wat ’n klipspringer te voet met ’n tradisionele boog gejag het. Adrian staan in Suid-Afrika by sommige bekend as Dr Death, aangesien hy die Groot Vyf, al die jagbare wilde beeste ter wêreld en waarskynlik meer as 2 000 diere met sy kragboog gejag het.

IMG_1304.JPG
Die gebied naby Thabazimbi waar die klipspringer geskiet is.
Klipspringer11.jpg
'n Spoor van 'n klipspringer.
IMG_6257.JPG
Die klipspringer het 'n baie duidelike bloedspoor gelaat.
image002.jpg
Hoe die klipspringer gevind is.
IMG_1300.JPG
Die klipspringer van naderby.